Inleiding

Inleiding #

Dr A.D. Keet het hom by verskeie geleenthede soos volg uitgelaat oor die moontlikheid van 'n uitgawe van sy versprelide geskrifte:

Enkele dagen geleden ontving ik Uw gewaardeerde brief. Daarvoor myn hartelyksten dank. Wat betreft Uw voorstel voor een vergrote uitgave van myn Gedigte (Swets en Zeitlinger, Amsterdam, 1920), zal ik onzen ouden vriend E.C. Pienaar maar weer vragen om drukproeven, spelling, enz. na te zien en ook om advies te geven (samen met S.P.E. Boshoff), over de keuze van gedichten die zij een plaats waardig achten in een nieuwe bundel.[1]

P.]. Nienaber sê ek moet deurdruk met die voorgestelde Verspreide Geskrifte. Dit sal hoofsaaklik joernalistiek en 'n bietjie prosa wees. Ook natuurlik 'n verwysing na Jan Celliers als Digter en Denker (Dietsche Stemmen, Utrecht, 1917), my bydrae tot Jonger Skrywers oor Eie Werk (Afrikaanse Pers, Johannesburg, 1951), ens. Dan ook foto's, bv. van die twee boodskappers, René de Clerca, Lauwerys en Hullebroeck (met kort lewensbeskrywings), ens. Miskien ook ou “Had je me maar[2]"![3]

Ek wil u vra om my ruim ses maande tyd te gee om sekere ongepubliseerde gedigte af te rond. Hulle kan die voorgestelde bundel aanvul, of in die plek kom van sommige gedigte in my bestaande bundel wat u letterkundige adviseurs afkeur. Daardie bundeltjie, in 1920 in Amsterdam gepubliseer, het ses drukke beleef.[4] Volgens Jan Bouws e.a. was dit in Holland in skole voorgeskryf en bekend as die Blou Boekie.[5]

Dit sal u interesseer om te weet dat ek hier 'n lys het van 35 komponiste uit ons eie land en ook uit Holland en Vlaandere wat van die gedigte getoonset het.[6]

Verantwoording #

Dit blyk dus dat, op aandrang van verskeie mense en instansies, dit nog altyd die bedoeling van A.D. Keet was om 'n aangepaste bundel van sy gedigte, asook uittreksels uit ander geskrifte, te laat publiseer. Ongelukkig is hierdie plan nooit verwesenlik nie. Die vernaamste rede was sy veelvuldige, veeleisende en nimmereindigende werksaamhede as algemene mediese praktisyn en distriksgeneesheer op die plattelandse dorp Senekal in die Vrystaat.

Gelukkig het hy gedurende die laaste 31 jaar van sy lewe feitlik al sy briewe aan vriende en kennisse in kopieboeke geskryf, sodat hulle bewaar gebly het. Die vroegste brief was op 23 Januarie 1941, toe hy 52 jaar oud was, en die laaste op 1 Desember 1971 op die ouderdom van 83 jaar. Baie inligting kan daaruit verkry word en uittreksels uit die briewe kan dien om 'n breë oorsig oor sy lewe en werk te gee.

Die briewe is in geselstrant geskryf en sake word gevolglik nie op 'n akademiese of hoogs intellektuele vlak bespreek nie. Nogtans gee hulle 'n insig in die skrywer se lewens- en werkomstandighede, sy vriendekring, belangstellings, menings oor verskeie aangeleenthede, humorsin en, bygesê, sy heimwee na vergange dae. Die briewe leen hulle nie tot die samestelling van 'n volledige outobiografie nie, maar verskaf hopelik genoeg inligting om hom as mens te leer ken.

Die verspreide geskrifte sluit ook sy bydraes in tot die Nieuwe Rotterdamsche Courant as dié se Suid-Afrikaanse Korrespondent (1920-1929), die Verspotte Gediggies vir Verspotte Kinders (1931), die privaat gepubliseerde In Memoriam (1933) en sy menings oor Die Wonder van Afrikaans in die Tydskrif vir Letterkunde (September 1959, bl. 96). Daar is ook plakboeke met die menings van kritici en ander wetenswaardighede, asook losstaande notas. Die joernalistieke bydraes tot Nederlandse koerante het hoofsaaklik met destydse nuusgebeure te doen en is nie hier ter sake nie.

Ook het A.D. Keet 'n klompie ongepubliseerde en 'n aantal gepubliseerde maar ongebundelde gedigte nagelaat. Sommige hiervan was kennelik vroeë werk en is nie gepubliseer nie op aanbeveling van sy destydse mentors, proff. E.C. Pienaar, S.P.E. Boshoff en D.B. Bosman.

Sy wens was dat al bogenoemde en ook die grootste deel van sy boekery na die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein moes gaan, waar dit tans gehuisves word. Ander boeke is bemaak aan die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, en 'n paar aan die Instituut vir Eietydse Geskiedenis, albei ook in Bloemfontein.

As eksekuteur van die letterkundige nalatenskap is die samesteller hiervan, A.D.K. I!, aangestel. Aan die eksekuteur is die reg gegee om nagelate manuskripte en geskrifte te laat publiseer. Aangesien die uitgewers van die bundel Gedigte (Swets en Zeitlinger, Amsterdam) en van Verspotte Gediggies vir Verspotte Kinders (Nasionale Pers, Bloemfontein) afstand van hul regte gedoen het, is besluit om sy gedigte en uittreksels uit die verspreide geskrifte en briewe te versamel. Sodoende kan moontlik voldoen word aan sy destyds sterkgevoelde behoefte om sy geskrifte byeen te bring en te publiseer.

- - -

Die digter praat self in A.D. Keet aan die Woord. Dit begin met woordeliks gekwoteerde aanhalings uit sy briewe en ander geskrifte. Hieruit word dit onder meer duidelik dat daar in die tydperk voêr, gedurende en nê die Eerste Wêreldoorlog (1914- 1918) sterk kultuurbande was tussen die Afrikaners wat destyds in Amsterdam gestudeer het, die Vlaamse woordkunstenaars wat daarheen uitgewyk het en kultuurbewuste Hollanders. Hierdie periode kan beskou word as Die goue tyd van die Afrikaners in Amsterdam (vgl. hoofstuk 2). In breë trekke kan gesê word die kultuurverbintenisse het bly voortbestaan totdat dit deur die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) onderbreek is. Vir enkele jare daarna was daar tog weer 'n toenadering, soos blyk uit onder meer die aanstelling van prof. N.P. van Wyk Louw en later prof. Merwe Scholtz as hoogleraars aan die Gemeentelike Universiteit Amsterdam.

Politieke faktore het veroorsaak dat daar die volgende vyf dekades 'n feitlik algehele onderbreking van kultuurbande was tussen die twee Nederlandssprekende volke in Europa enersyds, en die Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika andersyds. Afrikaanse skrywers en digters het toenemend hul heil en in- Spirasie in Parys, Frankryk, gevind.

Dit Kom voor asof daar die afgelope ses tot agt jaar 'n kentering ingetree het. Nederlandse en Vlaamse literatore, skrywers, digters en musici het Suid-Afrika “herontdek” (as voorbeelde kan kunstenaars soos Stef Bos, Herman van Veen en ander genoem word). Gerrit Komrij het die verskynsel goed beskryf deur te sê dat nê sy kennismaking met Afrikaans 'n paar jaar gelede, Nederlands nie meer dieselfde taal vir hom was nie.” Die speurtog deur die Afrikaanse poësie was 'n avontuur. Nederlanders wat met Afrikaans kennismaak, ervaar volgens hom 'n magiese krag. Daar is die byna onomskryfbare gevoel dat Afrikaans gedeeltelik 'n bevrore Nederlands is — nie versteen of doods nie maar bevrore, 'n beeld uit 'n ander tyd. Dit is asof daar 'n soort alchemie tussen Nederlands en Afrikaans is.

Afrikaanssprekendes, en nie net woordkunstenaars of musici nie, word seker bewus van 'n soortgelyke verbintenis wanneer hulle in toenemende getalle die Lae Lande besoek.

- - -

A.D. Keet aan die Woord bevat verder 'n verskeidenheid van sy gedigte. Die keuse het geval op verskillende groepe: 'n aantal vroeë gedigte wat nie gebundel is nie maar tog dien om die ontwikkelingsgang te demonstreer; gedigte uit die bundel wat hy aan sy moeder opgedra het; die meeste van die liefdesgedigte uit die bundel; gedigte uit die bundel wat vertaal is, ander wat verruim is deur versies wat deur bekendes bygevoeg is, nog ander met parodieë daarop, en 'n aantal losstaande en “vaderlandse” verse; dan alle gedigte wat getoonset is en dié wat in die twee jongste bloemlesings opgeneem is.[8][9] Dan is daar ook die In Memoriam-gedigte (voorheen privaat gepubliseer) en Verspotte Gediggies vir Verspotte Kinders (met 'n verduideliking van hoe hulle ontstaan het). Die groepe Vertwyfeling, Varia, en Bepeinsings is nie voorheen gebundel nie.

Werkwyse #

Die aanhalings is so noukeurig moontlik gedoen. In die briewe is die letter “y” gewoonlik gebruik in plaas van die Nederlandse “ij”, en “ 'n” i.p.v. “een”. (In sy Vlaamse briewe het prof. Lauwerys meestal ook “y” geskryf.) Die boskrif-syfers het op die verwysings betrekking. Die verwysings plaas die aanhalings en menings of uitsprake ook in die korrekte tydgleuf. By uitsondering is 'n paar onbenullige veranderings aan die oorspronklike teks gemaak, byvoorbeeld “ek was werksaam as arts in 'n hospitaal” is verander na “ek was as hospitaaldokter werksaam”. Hier en daar is 'n sin deur 'n leesteken verdeel, of 'n kKomma verskuif, of 'n datum bygevoeg. Soms was dit nodig om kort verduidelikings, wat as agtergrond moes dien, by te voeg. Laasgenoemde word onderskei van die eie woorde van die digter deur die gebruik van twee verskillende lettertipes, soos reeds in hierdie hoofstuk die geval is. Sy eie woorde is in 'n swaarder lettertipe.

Uit 'n bepaalde brief verskyn verskillende aanhalings soms in verskillende hoofstukke. 'n Bepaalde aanhaling is sover moontlik net een keer gebruik. In sommige hoofstukke was dit nodig om die aanhalings in chronologiese volgorde te plaas, in ander nie. Dit hang af van wat in 'n bepaalde brief bespreek is. Dele van briewe wat nie as van algemene belang beskou word nie, is weggelaat; dit behels aangeleenthede soos alledaagse familiesake, probleme op die plaas Noorskloof, en besprekings van die meeste binne- en buitelandse politieke kwessies.

Wat gedigte betref, is die titels van A.D. Keet s'n oral vet gedruk sonder aanhalingstekens en dié van ander digters in gewone druk tussen aanhalingstekens.

Ten slotte moet daarop gewys word dat, toe die bundel Gedigte in 1920 gepubliseer is, Afrikaans as skryftaal nog skaars uit sy kinderskoene was. Die Nederlandse invloed het gedurende die loop van die volgende vyf uitgawes verminder: 'n woord soos “als” het “as” geword, Muggejag het Muskietejag geword, en so meer. Afrikaans is in 1925 van owerheidsweë as kultuurtaal erken toe dit een van die destydse twee amptelike tale van die land geword het.

- - -

Daar word gehoop dat van die gegewens in A.D. Keet aan die Woord 'n spoorslag sal wees vir kultuurhistorici om die unieke kultuurverbintenis wat tussen Vlaandere, Nederland en Suid- Afrika in die halfeeu van 1888 tot 1938 bestaan het, nog volledig te dokumenteer. Dit is veral vandag ter sake, waar die Nederlandse taal en kultuur in die veelvolkige Europese Unie, en die verwante Afrikaanse taal en kultuur in die veeltalige Suid-Afrika, hulle in vergelykbare staatkundige omstandighede bevind.

A.D.K. II
Samesteller

Verwysings #

  1. Brief aan A. Swets, Amsterdam, 20.7.1947.

  2. 'n Kort skets en pentekening van die eertyds bekende Amsterdamse boemelaar “Had je me maar” verskyn op bll. 37-38.

  3. Brief aan A.D.K. II, 5.12.1958.

  4. Brief aan Afrikaanse Pers-Uitgewers, Johannesburg, 27.12.1960.

  5. Bouws, Jan; Die Burger, Kaapstad, 7.9.1965.

  6. Dieselfde as 4.

  7. Komrij, G: Die Burger, 24.7.2001.

  8. Komrij, G: Die Afrikaanse Poësie in 'n Duisend en Enkele Gedigte, Uitg. Bakker, Amsterdam, 1999.

  9. Brink, A.P.: Groot Verseboek, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad, 2000.