2 - Die Goue Tyd in Amsterdam #
Ek het op 8 April 1909 per boot in Antwerpen aangekom, en nie eers koffie of 'n sopie by jou gaan drink nie! Min het ek toe kon weet hoe die noodlot ons later sou saamgooi. Van daar na Amsterdam per trein. Ook dáár was niemand aan my bekend nie, behalwe één Afrikaanse student, Frans Karel te Water Naudé, wat van Edinburg af gekom het. Hy het by Stevie Joubert gaan kuier en hulle het hom later omgepraat om in Amsterdam te bly. Gelukkig kon ek gaan woon "op kamers" (soos die gesegde destyds was) te Nassaukade 364.[1]
Van die Stichting Studiefonds voor Z.A. Studenten het ek jaarliks 'n beurs van 60 pond sterling ontvang, wat die verblyf daar moontlik gemaak het.[2] Ek was altesaam 9 jaar in Holland, waarvan 8 jaar in Amsterdam en één as dokter in Arnhem.[3]
Toe ek in Holland gekom het, het ek ook 'n rukkie nodig gehad om koers te vat - ek was nog nie heeltemal seker nie en moes kies tussen medisyne, tandarts en Nederlandse letterkunde. Amper het prof. Tom le Roux (later van Pretoria) my oorgehaal om laasgenoemde te kies![4]
Voorkliniese Studie #
Luciani se Physiologie des Menschen (4 volumes), wat uit
Ttaliaans in Duits vertaal is, sal die jong mediese studente
’n idee gee, hoop ek, van die hoë eise wat aan mediese
studente gestel is in Fisiologie aan die Amsterdamse Universiteit. ’n Leerling en latere assistent van Luciani in
Rome, by name Van Rynberk, was ons professor in Amsterdam.
[5]
In Dierkunde moes ons begin met Einführing in die
Anatomie der Wirbeltiere van Wiedersheim (uitg. Gustav
Fischer, Jena, 1907) en in Anatomie was Lehrbuch der
Anatomie in 6 Abteilungen van Rauber-Kopsch (uitg.
Georg Thieme, Leipzig) voorgeskryf. Van Bacil tot Aapmensch
van W. Bélsche (uitg. W.]. Thieme, Zutphen) is
aanbeveel, maar was darem nie verpligtend nie.[6]
Dan is Jacgueline van der Waals tog ’n dogter van die beroemde ou professor! Hy het onder andere gekom met ’n verbetering op die Wet van Boyle. Die eerste vraag wat sy seun aan my gestel het toe ek tentamen in Natuurkunde by sy huis in Amsterdam gaan aflê het, was: “Ken jy miskien die formule van my vader?” Nou ja, gelukkig het ek die lang formule nogmaals geleer toe ek van die trem afgeklim en gestap het na sy huis. Toe was die ys gebreek en die tentamen uiters gemoedelik![7]
C.A. van der Merwe, algemeen bekend as “Carlos”, was ’n goeie vriend. Hy was ’n knap student en het my so ’n bietjie gebrei in Bakteriologie, ’n vak waarvan hy gehou het en ek nie! Hy kon ook lekker klavier speel en het ’n bietjie gehakkel. Later jare was hy vennoot in ’n mediese praktyk op Worcester. Twee ander baie goeie vriende met wie ons baie pret gehad het, was Stevie Joubert en Petronella (Nell) van Heerden.[8]
My óú vriend uit die Hollandse dae Theo Wassenaar is so beskeie soos altyd. Ek wil net byvoeg dat hy by die propedeutiese eksamen in Amsterdam, d.w.s. die kursus van die eerste twee jaar vir arts, in chemie, natuurkunde, dierkunde en plantkunde, cum laude geslaag het. Slegs één ander kandidaat, ’n Hollandse student, het hierdie prestasie behaal uit ’n klas van 180.
Rolf Reitz (later advokaat in Pretoria) en ek het ’n tyd lank op die Nassaukade langs mekaar gewoon. Nog ’n ou vriend was H.]. Steyn, die latere oogarts. Ek verneem dat hy burgemeester van Windhoek en later senator geword het. Hy was ’n penkop-burger in die Anglo-Boereoorlog.[9]
[IMG]
Afrikaanse studente omstreeks 1917 in Amsterdam. Langs A.D. Keet (middel) sit Japie Schonken (links) en Tielman Scholtz. B.B. Keet hurk heel voor en van links agter staan Petronella van Heerden, Stevie Joubert (met stetoskoop) en Kobie Scholtz.
Behalwe jou oom Ben (B.B.) was daar nog een met dieselfde van as ons, naamlik Danie Keet, ’n kleinneef, en later jare professor in Pretoria. As Rhodes-beurshouer van Stellenbosch was hy eers 3 jaar op Oxford, en daarna 3 jaar in Amsterdam. Op Oxford het hy die Rooies van sy gewig as bokser almal uitgestof![10]
Lydia van Niekerk het ek ook goed geken uit die Amsterdamse tyd. Sy was later professor in Nederlands- Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch.[11]
’n Ander tydgenoot en ’n goeie Hollandse vriend van die Afrikaners was M.W. Woerdeman. As student al was hy uiters bekwaam and a “real gentleman”. Hy het later professor in Anatomie aan die Stedelike Universiteit in Amsterdam geword.[12]
Op Bussum het ons studente dikwels besoek afgelê by die huis van prof. J.W. Pont.[13] Hy was ’n baie groot vriend van ons Afrikaners. Reeds véér die Anglo-Boereoorlog het hy prof. Bodenstein en dr. W.R. Malherbe, wat toe studente in Nederland was, gehelp om terug te kom en by die Boeremagte aan te sluit. Vir jare en jare was dié oubaas voorsitter van die Ned. Zuid-Afr. Vereniging.[14] Hy was die vader van Daan (later professor in die regte) en Jan (later van die staatsdepartement Landbounavorsing), wat albei in hulle twintigerjare na Suid-Afrika verhuis het.[15]
Afrikaanse Studentevereniging #
Ons Afrikaners het destyds 'n florerende studentevereniging met 'n eie lokaal en leeskamer gehad by Nassaukade 369, wat die Mekka van die Afrikanerdom in Nederland was. Daar het ons bekende Afrikaners soos Onse Jan Hofmeyr, genl. Beyers, N.]. (Niclaas) de Wet, F.S. Malan, N.F. de Waal en ook Emily Hobhouse ontvang.[16]
Niclaas de Wet was in Londen as regsadviseur van genls. Botha en Smuts by die onderhandelings insake die stigting van die Unie van Suid-Afrika. Dit was toe dat hy oorgekom het na Amsterdam en so 25 van ons studente na 'n dinee genooi het in 'n restaurant op die Rembrandt Plein. Terwyl hy, dr. Willie Joubert (later van Stellenbosch) en ek voor die dinee so staan en gesels, vertel hy toe hoe verengels die Kapenaars is: "Daar het jy nou 'n man soos Onse Jan Hofmeyr - sy huistaal is Engels." Willie het woedend weggeloop van ons gasheer. Die toeval wou dat Onse Jan sy bloedeie oom was, en hy wis dat Niclaas besig was om 'n growwe onwaarheid te verkondig.[17]
In ons leeskamer het prof. Godee Molsbergen ons, studente uit alle fakulteite, aandvoorlesings gegee oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Daar het 'n beroemde teoloog soos prof. H. Bavinck ons soms kom toespreek. En daar het 'n Joodse student in die Nederlandse letterkunde, by name Fuldauer, ons op gemoedelike wyse ingewy in die digkuns van die Tagtigers.[18]
Pas nê my aankoms in Holland in 1909 het daar 'n soort metamorfose ingetree. Toe het ek vir die eerste keer kennis gemaak met die Tagtigers en het 'n hele nuwe wêreld oopgegaan. Jacgues Perk, Willem Kloos, Frederik van Eeden en Herman Gorter het ek verslind. Ook het ek toe Heine, my geliefkoosde Duitse digter, leer ken. Almal se werke was vir my soos 'n frisse seelug nê die deftige, akademiese bedompigheid van Kaapstad, waar hierdie digters blykbaar destyds nog onbekend was of, in elk geval, nie in die leerplan nie.
En toe kom die wonderwerk - die geboorte van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging, ons eie, mooi sêgoed in ons eie moedertaal. Wat 'n onverwagte openbaring van skoonheid! Wat 'n verbluffende originaliteit - Marais, Celliers, Totius en Malherbe nog enigsins herinnerend aan hulle Europese leermeesters, maar Leipoldt "met albei pote" op Suid-Afrikaanse bodem. Hier was uiteindelik waarna ons gesmag het. Hulde aan hulle, danksegging en lof, omdat hulle, sonder wêreldse beloning, aan die roepstem gehoor gegee het.'[19]
Senekal
30 Jul. 1969
Dr. S.H. Pellissier
Pretoria
Geagte ou vriend
Ek wou jou al bedank het vir jou bedagsaamheid om aan my 'n briefkaart te stuur uit Holland met die nuus dat jy ons ou leeskamer by Nassaukade 369 spesiaal gaan besoek het. Wat 'n magdom van herinneringe het jy nie daarmee opgewek nie! Daan Pont sê altyd: "Dit was die goue tyd van die Afrikaners in Amsterdam!" Jou vriend A.D.K.
- - -
Toe u "Siembamba" voorgedra het by u optrede (ten tyde van die Halfeeufees van die Akademie) het ek daaraan gedink hoe ek dr. Nell van Heerden gelukgewens het toe sy 'n partytjie gehou het by die verkryging van haar doktersgraad in Amsterdam. Ek was toe voorsitter van ons studentevereniging en het my toesprakie geëindig met:
Aan Nell van Heerden
Jy wat die hoop van ons nasie is,
Jy wat ons volk so min kan mis,
Vou maar jou handjies dig te samen -
Jy's nou klaar met jou eksamen![20]
Ek dink nou skielik aan 'n grap wat op 'n studentefuifparty in Amsterdam gebeur het. Prof. Burger (van die Departement Oor-, Neus- en Keelsiektes) was 'n groot vriend van die Afrikanerstudente en het ons dikwels getrakteer. By een van die feestelikhede het hy 'n toespraak gehou op eg "studentikose" wyse. Gedurende sy toespraak het Frans te Water Naudé die professor kort-kort in die rede geval. Met 'n glimlag kyk die ou professor hom aan en sê: "Vent, hou toch je smoel!" Ons het Frans daarna baie hieroor geterg. Hy het net 'n vae herinnering van die voorval gehad, want daardie aand was hy (soos die meeste van ons) taamlik hoog in die takke![21]
Amsterdam
April 1914
Die Redakteur
Die Brandwag
Pretoria
Geagte Redaksie
Daar Die Brandwag deur so vele Afrikaanse studente gelees word, sal U mij seker 'n klein plekkie in Uw tijdskrif vergun vir 'n kort verslag van Die Vijfde Groot- Nederlandsch Studenten Congres wat vanaf 4 tot 6 April 1914 te Gent, België, gehou is. En sonder twyfel sal Uw andere lesers ook geinteresseerd wees in 'n beweging wat van soveel belang is vir die toekomstige verhoudinge van ons volk met Holland en België.
Die Algemeen Nederlandse Studenteverbond is nie van politieke aard nie. Trag ook nie om van Vlaminge en Afrikaners Hollanders te maak nie. Die Groot-Nederlandse idee staan vir die handhawing van die Hollandse taal en al sy aanverwante vorme, bevestig hulle waarde als wetenskappelike voertale, en eis die bestaansreg van die Hollandse kultuur in al sy uitinge in verskillende dele van die wêreld.
Dit spreek vanself dat die beste middel om die lede van 'n verbond wat bestaan uit vereniginge van die meest uiteenlopende aard, saam te breng, 'n kongres is. Op dié manier kan gedagtewisseling plaats vind, kan ons mekaar nader leer ken, kan geestdrif opgewek word, op dié manier kan daar 'n gesonde kompetisie ontstaan onder die stambroeders om mekaar te oortref op verskillende gebiede waardeur ons met één die weg baan wat lei naar vooruitgang.
Dit was drie heerlike dae in Gent, die pragtige ou stad met al sij pronkgebouwe wat daar staan soos monumente wat die eeuwe trotseer. Van alle kante het man- en meisiestudente uit Holland en België daarheen toegestroom. En sommer van die staanspoor af het daar 'n ongedwonge, opgewekte toon geheers. By die plegtigste redevoeringe en in die statigste gebouwe het ons nasionale volksliedere laat weergalm. Wat ons bowenal bewonder het, was die geestdrif wat onse Vlaamse makkers besiel. Dit is 'n genot om hulle die "Vlaamse Leeuw" te hoor sing:
Zij zullen hem niet temmen
Zoolang een Vlaming leeft,
Zoolang de Leeuw kan klauwen,
Zoolang hij tanden heeft.
En luister na die voorwoord van die officiele program: "Ons streven is geweest in dit kongres uit te drukken hoe Vlaanderen's intellektueele jeugd het Groot-Nederlandse ideaal begrijpt. Wij] hopen daarin te zijn geslaagd. En nu, hoog de harten! Laat ons nu het groote zien, makkers. Het indrukwekkende, roerende, dat hier broeders uit alle delen van onzen stam vereenigd zijn, vergetend wat ooit hen scheidde, om hand in hand te strijden voor hun volk; dat de bloem van Nederland's jonge mannen hier feest viert! Het Sde Groot-Ned. Stud. Kongres weze een lentefeest! Het brenge ons allen nieuwe energie en nieuwen gloed, om te leven en te streven voor ons schoon volk."
Dit sou mij te ver voer om 'n beskrijwing te gee van alles wat op die kongres plaasgevind het .. . Die aangenaamste dag was seker toe ons almal na Oudenaarde gegaan het. Die landskap daar is so skilderagtig dat dit te begrype is dat skrywers sOos Hugo Verriest en Stijn Streuvels daar opgestaan het. In die fraaie en beroemde stadhuis het prof. H.D.J. Bodenstein 'n uitstekende rede gehou in Afrikaans. Vele studente het hulle bewondering uitgespreek oor die "mooi klinkende" Afrikaans.
Ik hoor nou nog die refrein van meer dan één studenteliedjie.
Als ik so die pragtige Vlaamse liedere hoor, als ik
hulle toneelspelers sien, als ik mij midde in hulle beskawing
bevind, dan voel ik als Groot-Nederlander trots,
maar als Afrikaner ook 'n beetjie jaloers, moet ik erken.
Wanneer breng ons dit nog ééndag so ver? Maar ons is
nog maar jong ...
A.D.K.
Op die kongres moes ek namens die Boerenasie praat, en nê die toespraak het verskeie Vlaamse studente opgestaan en glasies kom klink met my. IGaudeamus igitur![22]
Kliniese Studie #
Né die vóórkliniese vakke het die kliniese jare natuurlik gevolg. Dit was 'n heel nuwe ondervinding om met pasiënte te werk. Toe het ek gedink: wanneer word ek eendag dokter, wanneer kan ek eendag op my eie bene staan? Alles was duister en tog is daar vir my gesorg, ten spyte van ongeloof en ongeduld! Nou ja - vandag is ek dankbaar dat alles nie so voor die wind gegaan het nie. Anders sou ek die goeie van die lewe nie so kon waardeer het nie."[23]
In die Wilhelmina Gasthuis (die universiteitshospitaal) het ek onder meer Psigiatrie, Oog- en Oor-, Neus- en Keelsiektes en Verloskunde bestudeer. Lg. vak was onder dr. JA. van Dongen, die beroemde Amsterdamse ginekoloog. Dit was 'n fout dat ek te veel (miskien te veel) tyd bestee het aan joernalistiek ens! [24]
Wat ons Afrikaners se harte in Desember 1914 gesteel het, was dat die Hollandse dagblad De Telegraaf die volledige berig oor die doodskiet van Jopie Fourie (bladsye vol, soos oorgeneem uit Die Volkstem) gepubliseer het. Dit het die hele Holland ontroer en hulle was woedend! Daardie dag het onbekendes ons op straat aangespreek en gesê: Botha en Smuts is seker omgekoop deur die Engelse. In die Amsterdamse Handelsblad het 'n advertensie verskyn: Botha's kop te koop. Die eienaar wou 'n groot foto van Botha wat hy gedurende die Anglo-Boereoorlog aangeskaf het, verkoop ter stywing van fondse vir die Boere![25]
Uit dankbaarheid teenoor De Telegraaf het ek die redakteur toe belowe dat ek hulle in die toekoms een en ander sou stuur ter wille van audi et alterem partem.[26]
Die teregstelling van Jopie Fourie het ons so aangegryp dat ek vroeg in 191$ die volgende versie oor die perfide Albion geskryf het:
Engeland
As eens 'n wêreldkatastroof
Ons liewe aard' in twee mag kloof,
O, Heer gee dan dat Engeland
Hom nie bevind aan onse kant![27]
Albert Verwey het twee sonnette, lofgedigte, aan Jopie Fourie gewy (sien Het Lied der Geuzen, Strijdgedichten deur A. van der Plaetse, Uitg. Lannoo, 1942).[28] En dan was daar natuurlik Jan Celliers se beroemde gedig oor Jopie Fourie.[29]
Ons Afrikaanse Studentevereniging het toe ook 'n 3-gulden
(5 sjielings)-fonds ten bate van genl. De Wet gestig.
In 'n plakboek het ek briewe en briefkaarte van Nederlanders
wat bygedra het, die meeste gerig aan Lydia van
Niekerk, wat sekretaresse was van ons poging. Maar
daar is ook 'n bydrae van 'n Van Zyl uit Gêttingen,
Duitsland. Hy skryf hoewel hy en 'n maat nie in Nederland
studeer nie, wil hulle tog ook iets bydra.
Verder is daar 'n lang lys name van vooraanstaande
Nederlanders wat 'n versoekskrif om begenadiging van
genl. De Wet aan die Botha-regering gestuur het. Daar is
ook Duitse gedigte waarin Botha nou letterlik stink gesê
word! Ek hoop om hierdie plakboek te skenk aan die
politieke argief van die Vrystaatse Universiteit.[30]
Skryf aan my of jy tog geïnteresseerd is in eksemplare van De Toorts, 'n weekblad, en Dietsche Stemmen, 'n maandblad (albei min of meer pro-Duits) wat gedurende die Eerste Wêreldoorlog verskyn het. Prof. Bodenstein en ek was albei medewerkers van hierdie tydskrifte. Verder het ek hier nog heelwat eksemplare van De Toekomst, 'n weekblad wat uit en uit pro-Duits was in daardie tyd. Steinmetz en baie ander bekende Hollandse professore het daarin geskrywe. De Dietsche Gedachte het later verskyn.[31]
Gedurende daardie oorlog het ek met die berugte Imperiale spioen Eli du Plessis veel te doen gehad. Hy het o.a. vertel dat hy baie geld losgeslaan het in Duitsland vir Die Burger. Prof. Bodenstein, dr. Mansvelt en ons Afrikaanse studente is almal deur hom om die bos gelei. Slegs dr. Leyds het hom nie vertrou nie. Dr. Willem de Villiers het nou die dag nog vir my gesê: "Ou Eli was darem maar vir jou 'n baasspioen!"[32]
Die Transvaler se hoofartikel onlangs oor pres. Steyn het my laat terugdink aan 'n huldeaand in Amsterdam, gereël deur die Ned. Zuid-Afr. Vereniging by die dood van die president in November 1916. Prof. Pont was toe juis voorsitter van die vereniging. As voorsitter van die Zuid-Afr. Studentevereniging moes ek die aand ook praat (het nog 'n verslag daarvan in my plakboek). Wie daardie aand 'n groot indruk op my gemaak het, was die eerbiedwaardige prof. ]. de Louter (met 'n mooi bokbaard!). Hy het vertel dat hy aan pres. Steyn die twee dele van sy Het Stellig Volkenrecht gestuur het tydens die oorlog en dit het hom gedurende die stryd bereik. Pres. Steyn was baie bly daaroor en het dit oral saamgeneem op kommando. Die ou professor het amper trane gestort toe hy daarvan vertel, so aangedaan was hy![33]
Aan die einde van my toespraak het ek nog my gediggie President Steyn voorgedra.[34]
Bydraes #
Vir die Studente Almanak ('n jaarboek) van die Amsterdamse Studente Corps het ek taamlik dikwels bydraes in die vorm van gediggies gelewer. Ook vir PAopria Cures, die studenteblad, het Theo Wassenaar en ek bydraes gestuur. Jare lank was ek in Holland aan die Nieuwe Rotterdamsche Courant verbonde. Later was ek ongeveer vyf jaar lank hul $S.A. korrespondent. Ek moes tweeweeklikse briewe oor toestande in S.A. aan hulle stuur. 'n Aantal hiervan is in 'n plakboek bewaar. Destyds het die N.R.C. in Holland die status van The Times in Londen gehad.[35] Die koerant is nou teen ons gekant weens ons politiek.[36]
Oor ons gevierde digter Jan Celliers het ek as mediese student in 1917 in Amsterdam die eerste uitgebreide studie geskryf. Dit het geheet Jan Celliers als Digter en Denker en is deur Dietsche Stemmen te Utrecht gepubliseer. Dit het ontstaan uit 'n lesing wat ek destyds op versoek gegee het op 'n jaarvergadering van die N.Z.A.V. te Amsterdam.[37]
[IMG]
Die buiteblad van die eerste uitgebreide studie oor die dogter Jan Celliers.
Hilversum is aan my goed bekend, want daar het my ou vriend die Hollandse romanskrywer Henri van Booven gewoon. Ofskoon hy voorheen welgesteld was, het hy gehawend uit die Eerste Wêreldoorlog gekom. Op 'n smeekbrief van hom uit Rome moes ek aan hom 'n pak klere stuur. [38] Terug by die huis in Bussum het hy sulke deftige literêre aande gegee waarheen ek meermale genooi is. Daar het Lodewyk van Deyssel en ander ontmoet en moes ook van my eie werk voordra. [39]
[IMG]
Die bestuurslede van die SA Studentevereniging in Amsterdam in 1919 was van links agter Modëst Lauwerys, Ben Havenga, A.D. Keet en, voor, Frans Karel te Water Naudé, P.S. Pretorius en Helena Pet.
Ons het ook dikwels in Hilversum gaan krieket speel. Behalwe Van Booven het ek op hierdie sportgebied ook Herman Gorter, J.C. Schroeder, die hoofredakteur van De Telegraaf, en ander leer ken.[40]
Hoewel jou ma gedurende haar studentejare baie aan
watersport deelgeneem het, was ek wat dit betref maar
'n toeskouer. 'n Hele klomp Afrikaners het daarin uitgeblink.[41]
Ben Havenga (later chirurg in Bloemfontein) was
saam met P.$S. (Florrie) Pretorius en Cornie van Niekerk
lid van die span De Oude Vier van die studenteroeivereniging
Nereus. In 1918 het hulle die hoofnommer in die
intervarsity op die Noordsee-kanaal gewen. Die naam
van die vierde lid, 'n Hollander, het ek ongelukkig vergeet.
Die stuurman was Sie, 'n klein outjie van Spaanse
en Javaanse afkoms.
Dit was die dag toe dr. Meurer, die breier, tot op die
laaste nippertjie getwyfel het of hy De Oude Vier op die
water moes loslaat. De Jonge Vier het naamlik die dag
tevore die oues lelik uitgestof. Die spanning het ten top
gestyg, en uit woede het die oues soos duiwels geroei
net om Meurer te wys wie baas was. Rolf Reitz vertel nog
met smaak hoe dr. Meurer in die Amstel geval het gedurende
'n roei-oefening toe hy die trainer was.[42]
Ou “Had je me maar” #
lemand het my De Groene Amsterdammer van 13 Okt.
1962 gestuur met 'n lang artikel oor ou ""Had je me
maar" en sy kollega, die anargis Zuurbier.[43]
Die ou was
n bekende Amsterdamse boemelaar wat altyd op
bankies in die stad rondgesit het, en op sy ramkietjie
getokkel het. As iemand hom vertel het dat daar êrens 'n
werk te kry was, was die antwoord altyd "Had je me
maar gezegd", en sê het hy dan ook bekend geword.[44]
Soos jy sal onthou, was die Amsterdamse studente
destyds vies omdat hulle volgens 'n verordening verplig
was om in die gemeenteraadsverkiesings te stem. Hulle
het toe hierdie ou boemelaar as kandidaat van die
Rapalje-party benoem en met behulp van vriende in die
stad is ou "Had je me maar" in die raad ingestem. Dit
was egter maar van korte duur, want die ou kon nie
sitting neem nie omdat hy nê sy verkiesing gearresteer
is vir dronkenskap."[45]
[IMG]
'n Pentekening deur Is van Mens van ou "Had je me maar", die boemelaar wat in 1919 tot Amsterdam se stadsraad verkies is.
Die skilder Is van Mens het twee pentekeninge van "Had je me maar" vir De Groene gemaak en die oorspronklikes vir my gestuur.[46] Ek moet hulle maar bemaak aan die Stedelike Museum van Amsterdam, of aan die Studente Corps. Hy is tog 'n historiese figuur. Ek het ook nog 'n olieverfskildery deur Van Mens van 'n Studente Corpsfees te Amsterdam.[47]
Eerste assistentskap #
Ná die finale eksamen was ek vir 4 maande assistent by die verloskundige afdeling.[48] Die plan was dat ek daarna 'n assistentskap by prof. Heymans van den Berg, die beroemde internis, sou aanvaar. Alles was met hom gereël toe dr. Leyds met die versoek kom dat ek sekretaris moes word van die Vryheidsdeputasie van 1919 (wat toe skeefgeloop het!).[49]
Ben Havenga (later van Bloemfontein) en ek was goeie vriende. Ons het toe vir 9 maande saamgewerk in Het Algemeen Ziekenhuis van Arnhem. Daar het ons die nagriep van 1919, toe honderde beswyk het, bestry. Byna alle kollegas was in die bed en hulle hoofarts, dr. Van Os, die direkteur van die hospitaal, en sy vrou is ook dood. So het dit gekom dat ons twee Afrikaners die enigste dokters was wat op die been was. Ons moes SOrg vir die hele hospitaal. Ons het prof. Van den Bergh van Utrecht af ingeroep vir konsultasie, maar hy kon ook niks doen nie. Ben en ek moes verskeie gimnastieksale inrig as noodhospitale, het dag en nag gewerk en moes op fietse ry na die verskillende hospitale.[50]
Verlowing en troue #
Ek stuur vir julle 'n onlangse nommer van die Nederlandse Post. Daar staan 'n mooi foto in van die Leidsche Plein met sy bossie bome. Dit het my vér laat terugdink, want ek het daar naby gewoon en die gediggie Net Maar Gesien het sy ontstaan te danke gehad toe ek een middag verby jou mammie gestap het in die Leidsche bossie![51]
Sy was een jaar lank lid van die Senaat van die Amsterdamse Studente Corps. Dit was destyds 'n hele onderskeiding vir 'n damestudent en sy was een van die weinige vroulike studente wat ooit lid geword het van hulle Senaat.[52] Toe ek nog net op 'n afstand verlief was en voordat ons verloof is, was Nell een van die leidsters van die meisiestudente. Met hulle uitkampery in Holland het sy met haar kitaar Afrikaanse volksliedjies vir hulle gesing en geleer.[53]
Baie dankie vir die pragtige boek De Vier Jaargetyden
(deur Kas Oosthuys, Uitg. Contact, Amsterdam, 1952) oor
Amsterdam wat jy vir ons gestuur het. Dit is regtig 'n
fraai boek en het my laat terugdink aan alles wat Amsterdam
vir my beteken het, en nog steeds beteken. Op die
Stadhouderskade, byvoorbeeld, het jou mammie en ek
verloof geraak, een aand - en nie in 'n huis daar nie,
maar so te sê op straat, tydens 'n wandeling![54]
Rolf Reitz en ik woonden lang samen op de Nassaukade,
waar hij de eerste was aan wie ik zekere avond
vertelde dat Nell en ik verloofd waren![54]
Ek is seker jy onthou jou eerste voordragaand voor die
Nederlandse en Afrikaanse studente nog goed. Dit was
die aand toe ek en Nell ook daar was, en ons verlowing
rugbaar geword het![56]
Toe ek aan jou mammie verloof was, het ek eendag 'n
kamp besoek @rens in Noord-Holland, of liewer op die
Veluwe, waar sy een van die leidsters was van talryke
meisies, en ek het man-alleen by hulle middagete
geniet. Toe ons gaan sit aan tafel, haak die hele klomp af
met die sing van "Wanneer kom ons troudag, Gertjie?"
Dit vereis moed om dan nie te bloos nie![57]
'n Verlowingstyd is 'n heerlike tyd, soos ek ook destyds
in Holland ondervind het. 'n Man voel sommer 'n
ander mens, met so 'n kragdadige steun aan jou sy![58]
My toekomstige eggenote het 'n jaar nê my as medikus gekwalifiseer aan die Amsterdamse Universiteit.[59] Ek moes vir 'n kort rukkie 'n praktyk gaan waarneem in Nieuwe Niedorp (dis vlakby Alkmaar) vir dr. Jaap Maats. Dis hy wat aan jou mammie en my die 2 pragtige Delftborde gegee het wat vandag nog in ons sitkamer hang. Jy sal onthou op een staan "Honger maakt rauwe boonen zoet" en op die ander ""Zoals we thuis eten, eten we nergens". Dit laat my dink aan al die variasies wat die Hollanders op laasgenoemde gemaak het, soos "Zoals vader thuis vloekt, vloekt hy nergens"![60]
In Holland loop daar nie gebooie in die Kerk voor 'n huwelik nie, maar so drie weke voor die tyd gee die paartjie kennis dat hulle ondertrouwd is. So het daar dan 'n klein advertensie in die koerant verskyn:
[IMG]
Prof. J.W. Pont het ons in die huwelik bevestig, want Nell
was ook van die Lutherse Kerk, net soos die familie
Pont.[61]
Dit was in die kerk op die Spui, Amsterdam, op 9
September 1919. Ons strooijonker was Frans te Water
Naudé, later jare ginekoloog in Kaapstad.
Toe ons die kerk uitstap, het die orrelis die Transvaalse
Volkslied gespeel. Ek kon toe nie my trane inhou nie,
ten spyte van al die glimlaggende gesigte rondom ons![62]
Vaarwel, Amsterdam #
Toe ek Amsterdam verlaat het, het Kleinjan van Bruggen by sy aankoms my kamers te Nassaukade 364 betrek. Volgens hom het die ouer studente hom wysgemaak dat van nuwelinge verwag word om die eerste aand in hulle kamer 'n fuifparty te hou. Hulle het dan ook deeglik gefuif, maar die hospita was baie omgekrap en hy moes trap die volgende dag. Dit was die einste kamer, sê hy, waar daar nog bloedkolle van muskiete teen die mure was soos 'n sekere Van der Merwe hulle doodgeslaan het![63]
Senekal
17 Okt. 1968
Beste ou Was
Die herinneringe aan die ou Amsterdamse studentetyd is
Oonuitwisbaar. Ek dink daaraan hoe Ben Havenga, Cornie
van Niekerk en ander my en jou altyd geterg het wanneer
ons in die leeskamer kom, nadat hulle van ons
eerste pogings in "pohesie" nog véér ons gelees het in
Die Huisgenoot. Dit was mos altyd 'n hele gelag en spottery!
Nou ja, vandag is jy oorbekend vir jou "Seesonnette"
en ek " vir Muskietejag! Terloops, in Holland is 'n
paar parodieë daarop gedig waarin hulle in die bresse
tree vir die arme muskiet!
Die geslag ná ons word pragtig beskryf deur dr. Goedhart
(Ryno Verster) in sy boek Dr. Goedhart Kyk Terug
(Nasionale Boekhandel, 1964). Daar was allerhande kaskenades
met die polisie en by die maak van pille ens. in
die eksamens. Nell van Heerden se twee boeke Kerssnuitsels
(Tafelberg, 1962) en Die Sestiende Koppie
(Tafelberg, 1965) is ook baie interessant.
Jou vriend
A.D.K.
Welk een aangename verrassing was het om zo 'n gezellige
brief te ontvangen! En hoe veel zoete herinneringen
wekte je in myn gemoed op! Wees wel bedankt, vriend
van weleer.
Ik herinner my nog goed de gastvryheid, by kopjes
thee, die wy by je schoonvader genoten. En hoe goed jy
je uitverkorene beschermde tegen mogelyke aanslagen
van de Afrikaners! Je oom Eduard Karsen kenden we beter.
Hy was 'n dierbare man die ons in zyn ateljee tracteerde
op bier en sigaren, te midden van 'n symposium
over kunst en allerlei andere onderwerpen. Over alles
werd door ons flink gedaasd. De levenswysheid echter
kwam van hem, en niet van ons![64]
In Amsterdam was ek sonder sorge as student, met
kamers 3 hoog, boven! Dit was van my gelukkigste jare
- helaas, vergangene Zeiten[65]
Wat vliegt de tyd! Ik word
dit jaar ook al 61, en terugziende was de Amsterdamsche
tyd het gelukkigste deel van myn leven, vol van zoete
herinneringen![66]
Leipoldt was darem doodreg toe hy geskryf het: "Ou
Amsterdam .. . jy het nog oor my siel gesag!" Dat jy ook
die inspirasie vir jou nuwe reeks boeke gekry het op die
gragte van Amsterdam, bewys dit weer.[67]
Kent U het geillustreerde boek Een Lied voor Amsterdam (Drukkery De Telg, 1946), door Bea Biet? Het bevat 42 gedichten over Amsterdam vanaf Vondel. En in het voorwoord staat: "Als dichters Amsterdam bezingen, ontstaan verschillende wijzen. Machtig het lied dat Vondel ons gatf, speels de zang van Keet. En wie met Hoornik door de stad dwaalt, hoort het lied van Amsterdam in ieder stadsdeel anders, doch altijd boeiend en meeslepend."[68]
Menigeen staat nog dat fyn pittoreske gedichtje over Amsterdam voor de geest, steevast in alle school bloemlezingen opgenomen, waarin Keet (die hier toenmaals medicynen studeerde) de schoonheid onzer hoofstad bezingt.[69]
Die Amsterdamse dagblad Het Parool het enkele jare ná A.D. Keet se dood berig dat hy in samewerking met die Amsterdamsch Litterair Café De Engelbewaarder 'n dichtersfestival gaan hou om nuwe gedigte oor die stad te versamel. Elkeen wat nog nie eerder gedigte by 'n erkende uitgewer gepubliseer het nie, kon meedoen met één gedig wat deur Amsterdam geinspireer is. Die blad het gedigte van die volgende mense aangehaal wat as voorbeelde kon dien: Roemer Visscher (1573), Daniël Willink (1723), A.D. Keet (1919), Halbo C. Kool (1938), Ed Hoornik (1938) en J.C. Bloem (1946). Die jurie sou bestaan uit 5 kundiges onder leiding van Simon Carmiggelt, en die 50 beste inskrywings sou gebundel word. Dit moes gereed wees vir 'n boekemark wat onder die naam "Boek en Stad Amsterdam" gehou is.[70]
Wanneer u nu op een zomeravond door Amsterdam zou lopen, Zou u naast de uitgetooide liggies ook mooie, met strijklicht verlichte gevels kunnen zien. Elke zomer worden gevels langs de grachten van een deel van de binnenstad op deze wijze "in het zonnetje" gezet, ten behoeve van de toeristen. Maar ook voor ons, Amsterdammers, is't een mooi gezicht, het blijft een prachtstad.[71]
Sê maar groete aan ou Amsterdam, waar ek van my gelukkigste jare deurgebring het.[72]
Terug huis toe #
Teen die end van 1919 is A.D. Keet terug na Suid-Afrika met sy Hollandse eggenote, mej. Nell N.C. van der Poll (ook geneesheer van beroep), wat die meeste van sy gedigte gelnspireer het. In sy gedigte het hy gestrewe na wat 'n lerse skrywer genoem het "the desperate simplicity which is so hard to reach".[73]
Ons het per boot gereis, via Engeland, en ook 'n draai gaan maak in Londen. Daar het "oom" John Roberts, die bekende Afrikaner-vriend, vir Nell en my getrakteer in 'n beroemde restourant. Hy het my 'n stuk of agt kosbare boeke oor die Anglo-Boereoorlog gegee, "want dan sou hulle in goeie hande wees". Die boeke sal maar later na die Oorlogsmuseum in Bloemfontein moet gaan.[74]
[IMG]
A.D. en Nell Keet in 1919 op pad na Suid-Afrika.
Toe ons eindelik op Humansdorp aangekom het, het geblyk
dat al ons koffers in die ruim van die skip oopgebreek
was en dat al ons huweliksgeskenke gesteel was.
Selfs die bruidsrok van my eggenote en silwer- en porseleinerfstukke is gesteel, en al wat ons oorgehou het, was
dit wat in die kajuit was. Die skip was vol ongedissiplineerde
en onbeheerbare Australiese soldate wat op pad
terug na hulle land was ná die oorlog.
Op Humansdorp was daar egter 'n verrassing: twee
telegramme van die Nasionale Pers uit Kaapstad waarin
die redakteurskap van Die Volksblad my aangebied is.
Maar daar was nog studieskuld en die mediese beroep
was 'n sterker trekpleister."[75]
Daardie Dingaansdag is ek gevra om te praat op 'n feesviering op die dorp, en ek het toe gewys op die groot potensiële mark vir ons boeke in Holland en Vlaandere. Min. Charles Malan, die hoofspreker dié dag, het my vir die gedagte bedank en sou dit aan die Nasionale Pers oordra.[76]
Verwysings #
Brief aan Modést Lauwerys, Antwerpen, 8.4.1964 ↩
Brief aan Daan Pont, 31.1.1971↩
Brief aan W.S.B. Klooster, Amsterdam, 8.8.1969.↩
Brief aan A.D.K. II , 6.9.1949↩
Brief aan registrateur, US, 17.9.1956.↩
Brief aan A.D.K. II, 3-11.1956.↩
Brief aan C.de Jong, 8.8.1969.↩
Brief aan A.D.K. II, 22.9.1957.↩
Brief aan A.D.K. II, 17.9.1957.↩
Brief aan Lowna Beyers, 24.4.1961.↩
Brief aan JJ.Britz, 8.12.1969.↩
Brief aan Duyvené de Wit, 1.10.1956.↩
Brief aan Willem Brandt, Bussum, 8.8.1969.↩
Brief aan P.J.Nienaber, 31.3.1960.↩
Brief aan Willem Brandt, Bussum, 8.8.1969. ↩
Keet, A.D.: Huldigingswoord by toekenning van eerbewys aan Modést Lauwerys, Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Stellenbosch, 1959. ↩
Brief aan P.J. Nienaber, 26.8.1952. ↩
Keet, A.D.: Huldigingswoord by toekenning van eerbewys aan Modést Lauwerys, Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Stellenbosch, 1959. ↩
Keet, A.D., in Jonger Skrywers oor Eie Werk. ↩
Brief aan Anna Neethling-Pohl, 14.8.1959. ↩
Brief aan DJ.Opperman, 12.12.1955. ↩
Gaudeamus igitur: Laat ons vrolik wees. Brief aan Modést Lauwerys, Antwerpen, 21.12.1960.↩
Brief aan A.D.K. II, 21.7.1946.↩
Brief aan A.D.K. II, 19.12.1949. ↩
Brief aan FA. van Jaarsveld, 14.4.1960. ↩
Brief aan CR.Swart, 19.6.1961.↩
Brief aan A.D.K. II, 4.8.1955.↩
Brief aan FA. van Jaarsveld, 14.4.1960. ↩
Brief aan Modést Lauwerys, Antwerpen, 8.11.1959. ↩
Brief aan Theo Wassenaar, 25.9.1969. ↩
Brief aan PJ.Nienaber, 16.9.1956. ↩
Brief aan G.D.Scholtz, 30.1.1966. ↩
Brief aan G.D.Scholtz, 1.12.1966. ↩
Brief aan Daan Pont, 31.1.1971 ↩
Brief aan M.C.E. van Schoor, 5.8.1966. ↩
Brief aan G.D.Scholtz, 13.9.1965. ↩
Brief aan Marie Stegmann, 11.12.1959. ↩
Brief aan Willem Brandt, Bussum, 8.8.1969. ↩
Brief aan A.D.K. II, 11.6.1950. ↩
Brief aan Willem Brandt, Bussum, 8.8.1969. ↩
Brief aan A.D.K. II, 2.2.1960. ↩
Brief aan M.W.Woerdeman, Amsterdam, 22.12.1965. ↩
Brief aan Modést Lauwerys, Antwerpen, 22.11.1962. ↩
Brief aan A.D.K. II, 3-12.1962 ↩
Brief aan Rolf Reitz, 3.5.1956. ↩
Brief aan Modést Lauwerys, Antwerpen, 22.11.1962. ↩
Brief aan Rolf Reitz, 24.5.1956. ↩
Brief aan A.D.K. II, 19.12.1949. ↩
Brief aan HW. Snyman, 11.10.1968. ↩
Brief aan A.D.K. II, 21.9.1956. ↩
Brief aan A.D.K. II, 4.6.1957. ↩
Brief aan A.D.K. II, 12.6.1952. ↩
Brief aan mev.dr. Rossouw, 12.11.1968. ↩
Brief aan A.D.K. II, 18.4.1951. ↩
Brief aan Lak van der Poll, Den Haag, 22.11.1964. ↩
Brief aan Modést Lauwerys, Antwerpen, 8.4.1964 ↩
Brief aan A.D.K. II, 27.4.1952. ↩
Brief aan A.D.K. II, 16.6.1952. ↩
Brief aan E.E. Buttner, 7.4.1947. ↩
Brief aan A.D.K. II, 3.4.1951. ↩
Brief aan G.D. Scholtz, 29.6.1966. ↩
Brief aan A.D.K. II, 25.8.1952. ↩
Brief aan A.D.K. II, 7.10.1951. ↩
Brief aan Lobry de Bruyn, Den Haag, 17.3.1968. ↩
Brief aan Bas Goedhart, 2.10.1964. ↩
Brief aan H. Burger, Amsterdam, 14.8.1949. ↩
Brief aan G.D. Scholtz, 15.2.1968. ↩
Brief aan mev. Gideonse, Amsterdam, 16.6.1968. ↩
Brief aan van Willem Brandt, Bussum, 10.7.1970. ↩
Het Parool, 5.4.1975. ↩
Brief van R.J. Swets, Amsterdam, 24.6.1964. ↩
Brief aan mev. C. Modderman, Amsterdam, 8.3.1963. ↩
Die Huisgenoot, 1.12.1933. ↩
Brief aan Daan Pont, 31.1.1971 ↩
Brief aan "Renier", Die Volksblad, 21.12.1954. ↩
Brief aan P.J. Nienaber, 11.12.1955. ↩